Ontwikkelingstuk
   

My Planeet

Die toneelstuk, My Planeet, is op Saterdagaand, 5 Augustus 2017, as een van drie tienertoneelstukke aangewys wat tydens Aardklop by die Centurion Akademie
Aardklop Pronk Podium gaan optree. Om vir Aardklop te kon kwalifiseer, moes Gimmies as een van die drie top produksies tydens die Noordheuwel- en Tswane Toneelfees kwalifiseer. Zandelle Meyer, Christo Horn, Estian Thomas, Christi Olivier, Dian-Louw Niesing asook die regisseur en teksskrywer, Pierre-André Viviers, het tydens die Noordheuwel-toneelfees verskeie goue en silwer sertifikate vir spel en tegniese samestelling ontvang.

Tydens die ATKV-Tienertoneel Streekskompetisie is Gimmies met die toneelstuk, My Planeet, as naaswenners aangewys. Die ATKV-Tienertoneelkompetisie is ʼn nasionale toneelkompetisie waar ongeveer 200 toneelstukke meeding om onder die top 15 produksies te eindig. Die finaal vind in Oktober in Kaapstad plaas, waartydens die beste 15 produksies in die bekende ArtsCape-teater gaan optree. Die name van die 15 produksies word in September bekend gemaak.
   
   

Gimmies-toneel ontvang goud

Tydens die onlangse ATKV-Tienertoneelkompetisie wat in die Sanlam Ouditorium van die NWU plaasgevind het, is Potchefstroom Gimnasium as die naaswenners van die Potchefstroom-streek aangewys. Helpmekaar Kollege het Gimnasium met slegs 0,02 % geklop.

Anneri Basson, Zandelle Meyer en Christo Horn het al drie goue sertifikate vir hul spel in die toneelstuk Agter die gordyne ontvang.Die toneelgroep het ook ‘n goue sertifikaat vir ensemble ontvang. Die tegniese span: Ano Fouché, Dian-Louw Niesing, Christi Olivier en Eunice Klopper het silwer sertifikate ontvang en die regisseur, dr. Pierre-André Viviers, het‘n silwer sertifikaat vir regie en vir die skryf van die teks ontvang.

Die toneelgroep het ook na die finale kompetisie, wat tydens Aarklop gehou is, deurgedring. Christi Olivier is in die afdeling vir beste klankoperateur genomineer. 185 skole van regoor Suid-Afrika en 3000 akteurs het aan die kompetisie deelgeneem. Dit is voorwaar ‘n prestasie om een van die top 16 te wees.

   
   
   
 

 

 
 

Die webtuiste is ontwerp en word met trots onderhou deur GSD Potch - The WEB mense...  - www.gsdpotch.com