EEN VAN GIMMIES SE SPOGSPORTE!

Watter ongelooflike atletiekjaar het Gimmies weereens beleef! Atletiek is weer vanjaar een van die skool se spogsporte! Talle Gimmie-leerders sal dié stelling beaam!! Die laaste twintig jaar word GIMMIES as die top atletiekskool in Noordwes beskou. Dié spogsport was al vele kere in die verlede beskryf as: “kweekplek van kampioene, medaljefabriek , mekka van atletiek” en vele meer. By Gimmies het vele meisies en seuns met ʼn “vonkel in die oog”, ʼn drif om hard te werk of ʼn passie vir prestasies, onder leiding van uiters knap afrigters gegroei tot nasionale medaljewenners of tot uiters gemotiveerde of begeesterde interhoërwenners. Vele opkomende atlete het hiér die vreugde van atletiek ontdek wat ʼn nuwe wêreld vir hulle oopgemaak het! Hierdie wêreld noem ons “geleenthede”.

Ons prestasies spreek vanself. Vanaf 1991 wen ons die interhoër 24 uit 25 keer!! Tydens die Noordwes-hoërskole-kampioenskappe verower Gimmies meer medaljes as die top skole saam met 22 goue-, 16 silwer- en 3 bronsmedaljes! ‘n Totaal van 41 Gimmies wen vanjaar Noordheuwel se Top 15-byeenkoms vir mediumskole. Dit eindig egter nie daar nie. Ons wen Hoërskool Uitsig van Pretoria se aflosbyeenkoms en eindig tweede tydens Prestige-kollege se Top 12-byeenkoms. By laasgenoemde was ons tweede en baie trots daarop want die wenskool bestaan net uit atlete.

In die laaste tien jaar het ons 323 atlete gehad wat gaan deelneem het aan die SA-Skole- en SA-Junior- en Jeugkampioenskappe! Ons medalje-oes was BRILJANT en in hierdie tyd verower GIMMIE-ATLETE 130 medaljes wat 26 goud, 50 silwer en 54 brons insluit! Verseker die beste vir ʼn plattelandse skool in SA!!!

Vanjaar het ons weer ’n dubbel Suid-Afrikaanse kampioen by name Miandi van Staden. Sy verower goud in 100m en 200m vir meisies o/15. Sy verower ook ’n verdere twee medaljes in die aflosse. Ons ander trots is Jana Steinmann, wat by die ASA-kampioenskappe goud in die gewigstoot vir juniors verower. Sy verower ook ’n verdere twee silwermedaljes. Sy word in die Suid-Afrikaanse span ingesluit vir die Southern Region-kampioenskappe waar sy met goud in die gewigstoot en silwer in die diskus beloon word. Karmen Fouche (o/14), word beloon met silwer in verspring en hoogspring vir o/15’s. Sy verower ook ’n verdere twee medaljes in die aflosse. Phillip Botha (o/15 spiesgooi) is Gimmies se ander SA-kampioen. Ons ander medaljewenners is: silwer- Roubert Rousseau (diskusgooi o/19), Milandré Stafford (10km stap), brons – Malleen Pienaar (spiesgooi o/15) en Almero Niemand (diskusgooi o/15).

Ons uiters knap span afrigters wat vanjaar in die son geswoeg en gesweet het, was:
Arnold v.d.Merwe (atletiekorganiseerder/afrigter lang- & middelafstande) Tommie Ferreira (hekkies en naellope), Werner Burger (naellope, spronge), Isabel Campher en Johan Benson (hekkies), Rudo Klopper (spiesgooi), Lee van den Berg (hoogspring) , Chris Conradie (hamergooi) en Alicia Bruwer en John Ross Jackson (diskusgooi en gewigstoot).

GIMMIES begin reeds op Maandag 14 Augustus atletiek oefen. Enige voornemende Gimmie is baie welkom om saam te oefen. Ons gaan op 23 September in Pretoria deelneem en op 13 & 14 Oktober in Naboomspruit. Op 20 en 21 Oktober is daar ook die Top 30-byeenkoms waarvan ons deel is, waar die top atletiekskole in Suid-Afrika deelneem. Daar is ook vyf ligabyeenkomste in September waaraan Gimmies gaan deelneem. Ons hou ook weer van 10-12 Januarie 2018 ons atletiekoefenkamp te Konka-kampterrein.

Alle atletieknavrae kan gerig word aan ons organiseerder van die afgelope 26 jaar, mnr. Arnold v.d. Merwe, by 0824388663.

Interhoër 2017
 
   
 
Potchefstroom Gimnasium het geskiedenis gemaak om vir die eerste keer die Top 15-atletiekbyeenkoms van Hoërskool Noordheuwel te wen. Gimmies neem deel in die afdeling vir mediumskole (skole met minder as 1000 leerders). Op die foto verskyn van die Gimmies wat aan die byeenkoms deelgeneem het, asook mnr Werner Burger.

Waldouw Smit van Gimmies is tydens die Interhoër as die beste senior seun (enkel-item) aangewys.

Almero Niemann van Gimmies is tydens die Intehoër as die beste junior seun (enkel-item) aangewys.

   
Karmen Fouché van Gimmies is tydens die Interhoër as die beste junior dogter (enkel-item) en Victrix Ludorum aangewys.

Gimmies het op Dinsdag 07 Februarie 2017 aan die jaarlikse aflosbyeenkoms van Hoërskool Uitsig op TUKS se atletiekbaan in Pretoria deelgeneem.
Gimmies is gekroon as die wenner vir mediumskole (skole met minder as 1000 leerders), vir die vyfde jaar agtereenvolgens. 23 skole het aan hierdié byeenkoms deelgeneem.

 

 

 
 

Die webtuiste is ontwerp en word met trots onderhou deur GSD Potch - The WEB mense...  - www.gsdpotch.com